Welkom
Dis ‘n nuwe jaar- met ‘n nuwe begin.
Dalk is dit wat uiteindelik vir ons as gelowiges die hoop, moed en krag gee om ‘n nuwe jaar wat skynbaar moontlike nuwe vreugdes asook moontlike nuwe uitdagings inhou, tegemoet te gaan.
As gelowiges weet ons dat die lewe met al sy uitdagings nie die finale sê het nie, maar dat ons ‘n Almagtige God dien, en dat Hy volgens Sy wil ons lewensreis bestem.
Psalm 27 word toegeken aan Dawid. Soos u weet teen die tyd was Dawid ‘n ervare stryder en daarom vind ek die woorde van sy psalms so maklik in my eie hart en op my eie gedagtes… Dawid, praat realisties oor die lewe! Psalm 27 is een van daardie psalms wat die soet en die suur van die lewe uitbeeld. As gelowige weet ek dat die jaar ook dit vir my gaan inhou. Daar gaan vreugde en smart wees…
My gebed en aanmoediging aan elkeen is dus die woorde van Psalm 27 wat sê: “Leer my u wil, Here, en lei my op’n gelyke pad”
Uiteindelik weet ons dat dit slegs moontlik is as ons die res van die psalm ook bid, veral in vers 14 waarin die kern lê: “Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here”.
As ons aan die begin van ‘n nuwe jaar wonder hoe ons dan die jaar moet aanpak, mag ons die woorde van die psalmdigter onthou, “Vertrou op die Here”. Wat ookal die geskenke van die jaar mag wees, mag u, u vertroue in die Here stel.
Ds Natalia Strydom