In Engels is daar ‘n woordjie wat nie so lekker in Afrikaans vertaal nie: “mindfulness”. Die woordeboek sê dit is “bewustheid”. Ek vertaal dit sommer gewoonlik met “bewustelik leef.” Wees bewus van wat in en om jou gebeur. Moenie dat die lewe by jou verbygaan nie. Herinner jouself, nóú is die enigste oomblik waarin ek het om te leef … eenvoudig omdat netnou nog nie aangebreek het nie.
Lydenstyd is die een seisoen in die kerklike jaar waar ons doelbewus (bewustelik) oor ons lewens kan nadink. Dit is konfrontasie-tyd met-onsself. (Dawid sou waarskynlik sê, hoe anders sal jy ooit kan sê, “teen U alleen het ek gesondig” as jy nie nadink oor jou lewe nie – Ps 51:6.)
Dit is vergifnis-tyd. Heelword-tyd. Dit is tyd vir bid. Dit is veral tyd vir raaksien.
Dink net hoe anders die lewe van Moses sou wees as hy daardie een spesifieke dag so in sy gedagtegang verdwaal was dat hy nie die vlam binne-in ‘n doringbos raakgesien het nie. Dit vra eers raaksien voordat jy kan besluit om nader te gaan (Eks 3:2-3). Dit vra stop en kyk. Bewustelik leef. As ‘n mens só leef, dan sal jy besef dat elke oomblik ‘n ontmoeting met God is.
Ons gaan so maklik “al slapend” deur die lewe. Ek hoor Jakob-van-ouds sommer uitroep, “ _Weet julle dan nie, die Here is op hierdie plek nie_ ” (n.a.v. Gen 28:16). Word wakker! Elke oomblik van ons lewe, waar ons ons bevind, kan ons as ‘n heilige oomblik beleef, want ons is in die teenwoordigheid van God. “ _U omsluit my van alle kante_ ” sê Dawid in Ps 139:5. Elke oomblik van die dag! Soms vra dit regtig stil word; fyn luister. Tot bedaring kom.
Raak net vir ‘n oomblik stil en kyk om jou rond. Jy is in God se teenwoordigheid.
------
*Op Dag 7 van #SkaduVanDieKruis* kyk ons na ’n video-opname van “Be Still for the Presence of the Lord” deur die koor van die Portsmouth-katedraal. Dié lied is 1986 deur die Britse liedjieskrywer David J. Evans geskryf. Die lied se inspirasie kom van Eksodus 3 waar Moses vir God in die brandende bos sien. In 2019 is die lied as een van Brittanje se 10 gewildste kerkliedere aangewys.